
Die Griekwas het 'n eie volksgeskiedenis, eie tradisionele leierskap
wat oor meer as driehonderd jaar strek, eie vlag en volkslied, monumente,
herdenkingsdae, tradisionele kleredrag en ander volkstradisies wat
hul identiteit uitbeeld.
Hulle is die Griekwa, tot voor 1994
nog saamgeklont on die veralgemenende term "Kleurling",
maar 'n groep wat oor eeue heen met "nasielike bloedsgevoelte"
en "geestelike sielsgevoelte" 'n eie volksidentiteit nastreef
en uitleef.
Maar nie in 'n eie tuisland nie, sê
prof. Ronnie Belcher, Stellenbosse digter en navorser oor die Griekwa.
"Vir die Griekwa is 'n eie vaderland iets geesteliks en nie
gekoppel aan 'n bepaalde grondgebied nie. Die Griekwa is immers
die somtotaal van verskillende groepe wat dwarsoor die land versprei
is. Hul vaderland lê in die hart en hul 'nasielike bloedsgevoelte'
verbind hulle oor geografiese grense heen."
'n Gedeelde geskiedenis en herkoms en 'n bereidwilligheid om jou
met die groep se kultuur en tradisies te vereenselwig, is die grondslag
van Griekwa-wees, benadruk mnr. Cecil Le Fleur, voorsitter van die
Griekwa-Nasionale Konferensie (GNK) van Suid-Afrika se raad van
hoofmanne.
Die GNK, met sy hoofkantoor in Kranshoek naby Plettenbergbaai, is
in 1904 in die lewe geroep om die Griekwa on die Le Fleur-leierskap
te verenig.
Van die Kaapse Vlakte tot die noordelikste
uithoeke van Suid Afrika kry jy mense wat na hulself as Griekwa
verwys, afstammelinge van die Khoi en die San wat in stamme soos
die Namakwa, die Einikwa, die Koranna, die Gurikwa, die Cochokwa,
die Chainokwa, die Hessekwa, die Houtenikwa, die Gourikwa, die Attawakwa,
die Damakwa en die Gonakwa voortleef. In die Wes-Kaap woon hulle
in sogenaamde bruin woonbuurte soos Pacaltsdorp (George), Mitchell's
Plain, Grassy Park, Vredendal, Hawston (Hermanus) en Belhar, in
die Noord-Kaap by Kimberley, Colesberg, De Aar en Victoria-Wes,
in die Gautengse Edenpark, Kliptown en Riverlea naby Johannesburg,
en naby ander stede, soos Port Elizabeth in die Oos-Kaap.
Dis 'n geintegreerde groep in 'n Suid-Afrika
met sy verskeidenheid, maar enig in sy kultuur en identiteit: Griekwa,
nie "Kleurling" of "bruin" nie, sê Le
Fleur. "En om net te sê jy is 'n Suid-Afrikaner, is onvoldoende.
Jy is in die eerste plek Suid-Afrikaner, maar in die tweede het
jy 'n identiteit binne Suid-Afrika. Die Griekwa het bepaalde inheemse
identiteit wat sê waar hulle vandaan kom en 'n kultuur en
tradisies wat diè identiteit versterk."
Diè identiteit lê klaarblyklik
opgesluit in die trotse geskiedenis van 'n volk wat met "rotsvaste
nasielikheid, geloof in God en deursettingsvermoë triomfeer
oor die oorlewengstryd, as deel van die laaste vesting van die Khou
van Suider-Afrika."

En diè geskiedenis kom 'n ver
pad, van voor die 1820's toe 'n groep mense van diverse agtergronde
op aanbeveling van eerw. John Campbell die naam Bastaard of Bastaard-Hottentot
vir Gouri-Griekwa verruil het. Toe ander stamme hulle by die groepering
in die gebied tussen die Berg- en die Olifantsrivier langs die Weskus
begin aansluit, is die naam "Griekwa" gebore wat saam
met die lidwoord "die" die meervoudsvorm "mense"
aandui, sê Le Fleur.
Die wortels van die Griekwa waartoe hy behoort, strek tot 1740 toe
Adam Kok I (gebore 1710) hul eerste leier was. Na die dood
van Adam (Muis) de Kok III en sy vrou word Andrew Abraham Stockenström
le Fleur (A.A.S. le Fleur I) in 1889 deur die Griekwa-raadsmanne
as leier aangestel.
Op 9 Mei 1889 beveel die Gees van God hom by die berg Manjanie op
Matatiele om die "dooie bene van Adam Kok" te gaan versamel
en dat hy hulle moet "roep uit die nasies uit sodat hulle vir
My 'n volk kan wees en Ek vir hulle 'n God." In 1896 trou hy
met Rachel Susanna Kok, jongste dogter van Adam (Muis) Kok. Op 5
Mei 1898 word hy in die hof in Kokstad gevonnis tot veertien jaar
harde arbeid op aanklag dat hy 'n opstand teen die Britse owerheid
aanstig in Griekwaland-Oos.
Hy word in die Breekwater gevangenis in Kaapstad aangehou en voorspel
hier dat hy op 3 April 1903 om 15:00 vrygelaat sou word. Presies
op diè uur en diè datum is A.A.S. le Fleur I vrygelaat
en begin hy volgens oorlewering in alle erns die Griekwa "hervorm".
Aan hom word ook die naam "Kneg" (van God en mense) toegedig
vanweë sy goddelike begaafdheid en diep geestelike visie wat
hom in staat gestel het om verskeie profesieë te doen. Vandag
verwys die Griekwa kortweg na hom as die "Kneg", die een
wat die twintigste eeu ingelei het met die Le Fleur-leierskap.
In 1941 het sy seun Abraham Andrew le Fleur die volk verder gelei
en na sy dood het sy oudste seun, Andrew Abraham Stockenström
le Fleur II, hom opgevolg. Alan Andrew le Fleur, oudste seun van
Le Fleur II, is einde Desember 2004 as nuwe opperhoof ingehuldig
nadat sy pa in Julie in die ouderdom van 81 oorlede is.

Diè plegtigheid is bederf deur
'n leierskapstryd weens 'n skeuring wat in 1969 in diè groep
plaasgevind het. 'n Splintergroep woon nou in Knysna onder die leierskap
van hul president, mnr. Anthony le Fleur, terwyl die hoofkantoor
van die res net 'n klipgooi verder op Kranshoek staan.
Kragtens die gewoontereg van die Griekwa erf die oudste die leierskap,
is al wat Le Fleur wou sê. Anthony le Fleur is 'n nasaat van
die jongste seun van die Kneg.

Hoewel die Griekwa hulle beskou as afstammelinge van die Khoi, eien
hulle hul nie alleenreg op diè geskiedenis toe nie. In 1919
is die sogenaamde roeperkore gestig om "in wind en weer, oor
die wapaaie, Gods Lof te besing om die Griekwa-volk weer bymekaar
te bring". Die boodskap, lui hul geskiedenis, is uitgedra in
'n verskeidenheid lofsange en "het weer 'n bloedspoor van nasielikheid
laat opvlam onder Griekwa en bruin mense".
En oor Paasfees vier hulle 'n "fees van lof aan God" en
"om hulde aan God te bring vir ons voorouers se baanbrekerswerk
om die Griekwa-volk lewendig te hou; die profisieë deur opperhoof
Andrew Abraham Stockenström I (1867-1941) wat God tot dusver
bewaarheid het, en die herdenking van die stigting van die Griekwa
Independente Kerk van SA, Paasfees 1920".
Nie net sing die Griekwa God se lof
nie, maar hy "lof" (gebruik as werkwoord) behoorlik, want
die Griekwa is van Afrika. Hulle stamp hul voete terwyl hulle historiese
gesange in Afrikaans en Nederlands dreunsing en die lywe ritmies
rondswaai op die klank van verskillende stemme.
By elke byeenkoms word hulde gebring aan God, die eerste leiers
van die kerkraad, die vorige opperhoofde, en veral aan die lewendes,
onder wie die bestaande koor, die veldspan, die jeug en die ouer
vroue, ook die Grootmoeders (die Vroue van Vog genoem). Letterlik
beteken dit dat die Vroue van Vog in tye van droogtes deur die opperhoof
aangewys is om God om reën te vra en te help dat die beloftes
van reën vervul word. Op simboliese vlak is hulle ook aangestel
om oor dreigende donderwolke soos rampe voorspraak vir die volk
by God te doen.

Aan die veldspan, bestaande uit vroue en mans, is die belangrike
taak opgedra om die nood van die volk te verlig. Hulle staan regstreeks
onder die opperhoof, in die diens van die volk. Dis deel van hul
taak om die geskiedenis lewend te hou omdat dit grotendeels deur
mondelinge oorlewing vars in die geheue van die volk gehou word.
Groot respek en eerbied word aan die ouer geslag betoon omdat hulle
die Griekwa se "biblioteke" is.
Ook die jeug vertolk nie slegs 'n dekoratiewe rol as die erewag
van die opperhoof nie, maar staan onder sy direkte gesag en is aktief
betrokke by die volksaak. Hulle word grootgemaak met 'n Griekwa-identiteit
en die verantwoordelikheid wat daarmee saamhang, want dis nie genoeg
om te sê jy is Griekwa nie, jy moet dit ook uitleef, die tradisies
ken, respekteer en uitdra. Benewens hul verantwoordelikheid as die
erewag van die opperhoof het hulle 'n seremoniële taak as lyfwag,
maar geen militêre rol nie. Aan so 'n struktuur het die Griekwa
geen behoefte nie aangesien die burgers hul opperhoof en mekaar
moet beskerm. Hul optrede is diè van eer, in die diens van
die volksaak.
Hierdie getuig hul kleredrag: vir die jong meisies wit rokke met
die vierkleur-banier om hul skouers en die jong mans met swart barette
op hul koppe, die vierkleur teen hul wit hemde vasgespeld. Reeds
so vroeg as 1972 is die jeug by die strukture van die volk betrek.
Die jeug is deel van gemeenskapsontwikkeling in die diens van selfhandhawing
en sosiale kontrole uit die self uit.
Selfbewussyn en selfhandhawing is
kernbegrippe vir die Griekwa, wat glo dat die jeug binne die raamwerk
van hul kultuur en identiteit 'n gesonde grondslag gebied word om
morele kwessies die hoof te bied.
Dit is 'n gemeenskap met regulerende gesagstrukture, maar met verbasend
veel ruimte vir demokrasie.
En dis vir die nageslag dat die Griekwa die grond terueis wat van
hom weggeneem is. Hulle het reeds Jackalskraal naby Kranshoek teruggekry
waarop 'n melkplaas bedryf word en Ratelgat, 'n kultuurontwikkelingsplaas
aan die Weskus.
Op diè plaas word die Griekwa se oorspronklike behuising,
matjieshuise, tans opgerig en sal die jeug touwys gemaak word in
spoorsny en hoe om "braaigoed" (vleis) te bewerk. "Vir
die Griekwa gaan dit nie om grond ter wille van grond nie, maar
ons soek dit terug wat aan ons behoort, wat regmatig ons voorouerlike
grond is. Nie restitusie nie, maar historiese eis," sê
Le Fleur.
"Want vir die Griekwa is alles, hul kerk, monumente, grafte
en grond, simbole van hul geskiedenis en identiteit, hul strewe
as 'n volk, hul nasielike bloedsgevoelte."
|