Vinnige links: Oorsprong | Toerisme Projek | Matjieshuiskraal | Grafte | Kalkoond
Ratelgat naweek 2006 | Koerantberig:Die Burger | Geskiedkundige foto


GRIEKWA RATELGAT ONTWIKKELINGS TRUST - 'n KHOISAN PROJEK

Hierdie historiese Griekwa plaas is geleë binne die Knersvlakte wat binnekort tot 'n biosfeer reservaat verklaar gaan word.

Ratelgat is 'n half woestyn gebied en op die oog af lyk dit asof dit nie 'n mens aan die lewe kan hou nie, maar hoekom word daar so baie sentimentele waarde aan diè plaas geheg en waarom raak die volk week as hulle van Ratelgat praat?

Die geskiedenis van die plaas dateer uit die jare van die 1920's toe die destydse Opperhoof A.A.S. Le Fleur (1867-1941) hier met sy Griekwa baanbrekers die Griekwa en Khoi-Khoi kultuur wou uitbou en beskerm.
Die Khoi-Khoi kultuur en geskiedenis is sedert die vroegste jare van kolonisasie onder hewige druk van uitwissing geplaas. Hierdie plaas kan dus gesien word as 'n vesting waar die beoefenaars van hierdie geskiedenis en kultuur reeds vanaf die vroeë jare van die 20ste eeu hard probeer het om teen die magte van kolonialisme te veg.

Hierdie plaas was soos Opperhoof A.A.S. Le Fleur I (Die Kneg van God) aan sy volgelinge van daardie tyd oorgedra het, 'n plaas wat deur 'n visioen aan hom deur God in 1915 op die dorp Brewelfontein in die Vrystaat openbaar was. A.g.v hierdie visioen het hy op die spoorwegstasie van Klawer langs die Weskus afgeklim en reguit gestap na hierdie half woestyn gebied binne die sogenaamde Knersvlakte naby Vanrhynsdorp en het hy vir sy volgelinge gesê, dit is presies diè plek wat hy in die visioen gesien het.

kliek hier vir meer geskiedenis & tradisies van die Griekwas...

 

kliek hier om terug te keer na bo...


Die huidige toerisme projek op die plaas is dus daarop gemik om die ekologiese rykdom van diè gebied harmonieus te versoen met die ryke kultuur erfenis van die Griekwa. Die toeris sal dus blootgestel word aan 'n uitsonderlike kultuur ervaring wat hom/haar naby sal bring aan die leefwyse van die eerste inheemse inwoners van ons pragtige land, Suid-Afrika.

Van die raarste plantspesies word hièr aangetref wat nêrens anders op aarde gevind word nie!

Soos reeds genoem huisves die streek waarin diè plaas geleë is van die raarste plantspesies, wat nêrens anders op aarde aangetref word nie. 'n Uitgemerkte staproete waarop georganiseerde staptoere gereël gaan word, sal die toeris in aanraking kom met hierdie unieke flora skatte van die Knersvlakte.

 

'n Matjieshuis kraal is gebou met 28 matjieshuise, 'n lapa, 'n swembad en andere. Bowerk aan 6 enkel kamer (slaap 2 elk) en 6 dubbel kamer (slaap 4 elk) chalets het reeds begin en 'n eerste fase sal eersdaags voltooi wees (Chalets).

kliek hier vir die argiteksplan van die Matjieshuiskraal en Pryse

Kontakbesonderhede vir navrae:
Griekwa Ratelgat Ontwikkelings Trust

Tel: 027 2135472
Faks: 027 2135465
E-mail: ratelgat@trusc.co.za

kliek hier vir die argiteksplan en foto's van Monument te Ratelgat / Heiligdom.

Toeriste in die vorm van "backpackers" het reeds vanaf Januarie 2006 op Ratelgat oornag en is die Griekwa volk vol vertroue dat waneer die projek teen die middel van 2007 voltooid is, die toerisme komponent op die plaas goed gevestig sal wees.

Onderhandelinge is tans aan die gang tussen die Griekwa Nasionale Konferensie en Kaapse Natuurbewaring om 'n alternatiewe plaas aan te koop en beskikbaar te stel sodat die boerdery komponent van die plaas verwyder kan word.

Sedert die ontvangs van die plaas op 1 Mei 1999 is die ontvangsdatum en die geboorte van die voringe Opperhoof A.A.S Le Fleur II gekombineer en het Ratelgatnaweek sy ontstaan.
Hierdie gebeurtenis het dus sedert 2000 'n jaarlikse instelling geword waartydens Griekwas van oral oor die lengte en breedte van die land tydens die naweek van 11 Mei opruk na Ratelgat om hulde te bring aan God vir:

1. Sy belofte en profesië deur die Kneg (A.A.S Le Fleur I, 1867 - 1941) aan die volk wat bewaarheid word.
2. Sy belofte om die Griekwa-volk te seën.
3. Die Opperhoof se gespaarde lewe, asook sy opofferinge vir die volk.

kliek hier om terug te keer na bo...

     
Op die plaas vind ons ook tien grafte van oudstryders in die omgewing van die monument, oorkant die rivier, op die ou pad na Beeswater. Die mense hier is tussen 1933 en 1941 begrawe nl: Wyle Oupa Dirk Sias, Oupa en Ouma Witvoet, Johannes Swartbooi (Oupatjie Posman), Getruida Dirkse en vyf kinders wat nie identifiseer kan word nie. Hulde word aan die besonderse afgestorwenes gebring vir hul onwrikbare geloof om God se Roeping uit te bou deur die Kneg na te volg na Ratelgat. Oupa Dirk Sias word in die volksmond beskou as een van die eerste hervormde Griekwa sedert die stigting van die GNK in 1904. Hy het 'n groot rol in onderhandelinge, hervorming van die Griekwa-volk en leierskap aan die sy van die Keng gespeel.

Die Kneg het verskeie projekte geloods en een van die projekte was die kalkoond. Die kalkoond was gebou met klei wat hulle in die rivier gevind het. Die Griqua mense het die blou rivierklip gekap tot dit kalk was en daarna is die kalk na Vredendal per donkiekar vervoer en verkoop aan die boere. Die kalk was hoofsaaklik gebruik om die huise te wit - of soos ons dit vandag noem verf, aangesien daar nie plek naby was om verf te koop nie.

Die Kneg het in 1941 vir Ratelgat kom groet en homself vir veertien dae afgesonder in afwagting op die antwoord van God dat Hy die volk in Sy pylkoker sal bewaar en eers nadat hy die versekering van God gekry het, het hy Ratelgat vaarwel toe geroep.

kliek hier om terug te keer na bo....


"ONS AS GRIEKWA IS REGOOR DIE LAND MAAR BEWEEG TELKENS
NA KLIP EN SAND
JA, NA DIE DORRE WOESTYN RATELGAT
ONS EIE GRIEKWA STAD"

Ratelgatdag, saam met die oujaar seremonie, vorm die twee belangrikste nasionale gebeurtenisse op ons kultuur kalender. Die Ratelgat fees het 'n tweeledige doel. Eerstens is dit 'n geleentheid waar daar hulde gebring word aan Opperhoof A.A.S Le Fleur I(Die Kneg), sowel as aan sy pioniers wat saam met hom destyds op Ratelgat gewoon en gewerk het. Ratelgat vorm die kern waarom die Kneg se profesië vir die toekoms draai. Dit is dan veral 'n dag waar die Kneg se groot en uitnemende leierskap besing word en erkenning gegee word aan die mense wat hom so getrou ondersteun het. Daar word ook gekyk na profesië wat reeds waar geword het en daar word ook verwys na die wat nog moet waar word.

Tweedens word die fees ook gebruik om die verjaarsdag van die wyle Opperhoof A.A.S Le Fleur II te vier. Tydens 2004 se Ratelgatnaweek was daar ook 'n gedenksteen deur die ontslape Opperhoof by die monument op Ratelgat gelê om die Kneg en sy pioniers te vereer.


RATELGAT

Soos 'n stil dorre woestyn lê jy daar
Oor jou is geprofeteer ja - en kyk hoe word alles waar
Op 1 Mei 1999 het ons jou amptelik gekry
Vir ons is jy kosbaar en ons harte juig so bly

RATELGAT - O - RATELGAT

Met lof en eer kan ons van jou sing
Want jy alleen gaan môre vir Suid - Afrika verlossing bring
Vir ons is daar geen beter grond
In hierdie ganse wêreld rond

Groot getalle verteenwoordigers van Griekwa konsentrasie punte regoor die land het op 12 - 14 Mei 2006 op hul kultuurplaas, Ratelgat 35km noord van Vanrhynsdorp op die N7 na Springbok saamgetrek om hul jaarlikse kultuurfees op te hou.

Die fees word jaarliks oor die naweek van of opvolgend op 11 Mei gehou. Hierdie fees is van groot kultuur-historiese waarde vir die Griekwa volk onder die gesag van die Griekwa Nasionale Konferensie (Opperhoof Alan Andrew le Fleur). Die fees word gehou op die datum wat die geboortedag van wyle Opperhoof A.A.S le Fleur II op 11 Mei 1923 herdenk en val ook saam met die datum in Mei 1999 toe die Griekwa Nasionale Konferensie hierdie historiese plaas teruggekry het deur die grondhervormingsprogram van die regering.

Die fees word gehou om hulde te bring aan die gestorwe pioniers wat destyds op die plaas die Griekwa kultuur en tradisies onder uiters moeilike omstandighede laat voortleef het. Pogings was ook destyds aangewend om die gewoontes en gebruike wat deur kolonialisme vernietig of ernstig bedreig was, te laat herleef. Op so 'n wyse is hierdie kosbare volks eie erfenisse behoue laat bly vir die nageslagte. Die jaarlikse kultuurfees op die is dan ook daarop gemik om die voortbestaan van hierdie kultuur erfenisse vir die toekoms te verseker.

Saterdag het die verrigtinge hoofsaaklik by die Matjieshuiskraal afgespeel en was op eg, Griekwa manier gedoen. Die Opperhoof en metgeselle was amptelik deur die volk ontvang en hier was God geloof en geprys vir Sy bewarende Hand oor die volksgenote gehou wat geen moeite ontsien het om hierdie kultuurfees by te woon.



"Ratelgat moet uigebou word as 'n plek waar ons Griekwa mense en ook
Khoi mense die geleentheid wil bied om geherkonnekteer te word met hul
kulturele wortels. Die rare bosse en plantegroei, moet hier beskerm
word en hierdie natuurskoon moet ook met die wêreld gedeel word,
daarom moet ons toerisme hier bevorder".

Op 13 Mei 2006, Saterdag middag was inheemse spele vir die eerste keer op Ratelgat beoefen. Junior (jeugdiges) en senior (volwassenes) van die verskillende Griekwa takke het die geleentheid gehad om teen mekaar te speel.

Terwyl die deelname begin het was daar die opwindendste liedjies gesing wat die deelnemers sommer lus gegee het vir die speletjies.

"Die ding het behoorlik geruk!!"

Die wenners (takke) was na afloop van die spele beloon met sertifikate en trofeë.

Die Saterdag aand was op gebruiklike wyse 'n sang en kultuuraand gehou waar Griekwa koorsang & kultuur opvoerings plaasgevind het. Die dansgroep het ook opgetree om die feesgangers te vergas op tradisionele danse soos die riel en xhabarra.

Die Noordwester Griekwa Dramagroep (Vredendal Tak) bestaande ui Griekwa jeugdiges het groot waardering vir hul Griekwa gestorwe pioniers wat destyds die Griekwa kultuur en tradisies onder uiters moeilike omstandighede laat voortleef het asook die pogings om die gewoontes en gebruike van die Griekwa te laat herleef en op so 'n wyse hierdie kosbare volks-eie erfenisse behoue laat bly vir die nageslagte. Hul ryke geskiedenis en kultuur-historiese erfenisse maak vandag van hul "trotse Griekwa kinders" daarom is dit belangrik dat jy moet weet waarvandaan jy kom en waarnatoe jy oppad is. Drama opvoerings en gedigte word deur hulself geskryf en is hoofsaaklik geskiedenis eie aan die Griekwa volk.

Hulle het op 19 November 2005 (Saterdagaand) 'n Sang en Kultuuraand gehou wat daarop gemik was om hul kultuur, tradisies en koorsang uit te beeld en dit was 'n kleurvolle en luisterryke geleentheid wat op eg tradisionele, Griekwa manier gedoen was. Hulle het hierdiè geskiedkundige gebeurtenis verfilm en tydens hierdie jaar se Sang en Kultuuraand oorhandig aan Sy Edele Opperhoof Alan Le Fleur.

Die jeug van Vredendal kan God nie genoeg dank nie, want toe dit lyk of hulle in 2003 wegbeweeg van hierdiè "duurgekoopte volksaak" het God die gebedes van ons vogmoeders en volksgenote van Vredendal Tak gehoor en die "Blomme van die dooie bene" opreg teruggebring na Sy Goddelike Roeping.

Op 14 Mei 2006, Sondag oggend het die Griekwa feesgangers op gebruiklike wyse die grafte van die oudstryders in die omgewing van die monument, oorkant die rivier, op die ou pad na Beeswater besoek. Die mense hier is tussen 1933 en 1941 begrawe nl: Wyle Oupa Dirk Sias, Oupa en Ouma Witvoet, Johannes Swartbooi (Opatjie Posman), Getruida Dirkse en vyf kinders wat nie identifiseer kan word nie. Hulde was aan diè besonderse afgestorwenes gebring vir hul onwrikbare geloof om God se Roeping uit te bou deur die Kneg na te volg na Ratelgat. Oupa Dirk Sias word in die volksmond beskou as een van die eerste hervormde Griekwa sedert die stigting van die GNK in 1904. Hy het 'n groot rol in onderhandelinge, hervorming van die Griekwa-volk en leierskap aan die sy van die Kneg gespeel.

Op Sondag oggend was daar op gebruiklike wyse beweeg na die grafte van die oudstryders. Lr D. Uys het hier die openingsgebed gedoen. Oom Booi van Vredendal het die volksgenote ingelig oor 'n hartroerende geskiedenis wat homself hier te Ratelgat afgespeel het. Hy het beklemtoon dat hulle wat hier op Ratelgat begrawe is by ORDER, LIEFDE, VREDE EN EENHEID was.

Die volk het God verheerlik deur lofsange op te dra en hulde was ook aan die oudstryders gebring.

Hierna was beweeg na die monument terrein, wat deur die Griekwa as 'n gewyde terrein (sacred site) beskou word. Dankbetuiging was aan God gebring vir die profesië deur die Kneg wat bewaarheid word en aan God vir Sy belofte om die Griekwa volk te seën asook vir die uitgespaarde lewe van die huidige opperhoof.

Hulde was ook gebring en lofsang opgedra aan die twee gestorwe Opperhoofde A.A.S le Fleur I en II sowel as aan al die ander volkshede en heldinne.

Die volk het letterlik op hul knieë gegaan en Sy Edele Opperhoof voor God gedra. Gebedes was na God toe ge-uiter terwyl die volk saggies sing: "Hear my prayer". Daar was onder andere gebid vir die Opperhoof se gesondheid. Hier kon vele volksgenote ervaar dat God se Gees aanwesig was en soos die geskiedenis ons vertel moet jy laag daal en nederig raak om jou God te vind.

Gedurende die Kneg se verblyf hier het hy homself dikwels afgesonder om met God te kommunikeer, en dis hier waar hy al sy belangrike profisieë gesien het en hiervandaan het hy ook geweldig baie briewe geskryf aan die destydse Hertzog-Malan regering.

Die volgende profesië het hy oor Ratelgat gemaak:

"God sal diè woestyn omskep in 'n paradys. Ratelgat sal die eiendom word van die Griekwa volk sonder dat 'n sent betaal sal word. Ratelgat sal môre vir die Kaap water gee. Biskoppe en regeringslui sal te Ratelgat in die stof kom pleit by God teen die swaar verdrukking wat kom. God sal met die Griekwa Volk te Ratelgat praat en die volk seën".


"Buitengewone gebedes vra buitengewoon baie mense wat sal bid, want gebedes van baie bring 'n groot seën vanaf God. Gebedes vanuit harte wat God ken en in God glo, is gebedes wat weet dat God 'n God is wat gebed verhoor"

 


Tradisionele kuns:
Herleef op fees op Paarlberg
'Die riel is in ons bloed'

Groep van Wupperthal stof ander op dansvloer uit
Artikel: Die Burger, Joernalis: Le Roux Schoeman
11 Desember 2006

KAAPSTAD. - 'n Byna uitgestorwe tradisionele dansvorm het Saterdagaand uit die as herrys teen die hange van die Paarlberg met die eerste / Khapara (Rieldans)-fees

Rieldansers uit die Boesmanland, Hantam en ander trotse tuisgronde van diè tradisionele stamp- en sleepvoetdans vry boonop nou na Suid-Afrika se kunstefeesgehore om die dans wat "die eerste volkere in Suid-Afrika om die vuur gedans het", aan die lewe te help hou.
"Die volgende stap is die kleiner feeste," het mnr. Elias P. Nel, bekende skrywer en 'n man wat self op Verneukpan "die riel leer trap het", gesê.
Sewe dansgroepe het op 'n wye sirkel aangeryde sand op 'n kil Paarl-aand in die amfiteater net onder die Taalmonument meegeding in die kompetisie, wat Nel namens die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) gereël en gelei het.

Prysgeld van altesame R2 250 is uitgeloof aan die beste drie dansspanne, met elke groep wat 'n verdere R300 ondersteuningsgeld in die hand gestop is vir hul pronkwerk.
"Die fees wil hulde bring aan die mans en vroue, vandag ook al meer jongmense, wat die kultuurdans lewend hou," het organiseerders aan die sowat 500 toeskouers verduidelik.
Mnr. Pedro Dausab, 'n opvoeder in die Namataal, het 'n kort oorsig oor diè dansvorm, wat by uitsterf omgedraai het, se geskiedenis verskaf.
Nama-tussenwerpsels het uit die gehoor opgeklink terwyl dansers opgewarm en rye toeskouers, askoek-boereworsrolletjies in die hand, die bankies gevul het. Nel het 'n opsweepgedig voorgedra en onder andere die voorsitter van die ATKV-direksie, mnr. Johan van Schoor, en die Griekwa-leier, mnr. Andrew le Fleur, verwelkom.
"Dit was geen geheim as 'n meisie haar eerste maandstonde gehad het nie. Bure, familie en vriende is verwittig," het Dausab gesê by verduideliking van die dans se oorsprong. Hy het bygevoeg dat danspassies soos die "sekelnekloop" aangelê is daarop "om 'n meisie los te dans".
Die kompetisie is ingelui met 'n jong dansertjie van Middelpos wat sy span se geleidelike, ritmiese oorgang van twist, na "bobbejaan-twist" tot suiwer riel geherder het.
Teen 21:45 is die dansvloer oopgegooi terwyl beoordelaars vir lank genoeg delibereer het dat talle mense die pad gevat het.
Die gesogte trofee vir die beste vroulike danser is uiteindelik opgeraap deur die aanvallige Abigail Booysen (14) van Vredendal.
"Ek dans al van 2003. Dis baie lekker, dis in my bloed," het Booysen na haar oorwinning gesê.

Ervaring meer as jeugdige skoonheid het egter die knoop deurgehak in die stryd om die skild vir beste manlike danser en mnr.Jack van Zyl (46) van Brandvlei het 'n wye S oor die sand gegooi onderweg na die beoordelaars se handdrukke.
Die ouderdomme van die dansers het van onder tien tot diep in die middeljare gestrek en spanne het gemiddeld uit 10 mense bestaan wat op eenvoudige tweeman of CD-musiekbegeleiding staatgemaak het. Spanne is uitgerus in kleurvolle kostuums met volop kappies en breërandhoede.

Middelpos het 'n lansie gebreek vir genderaktiviste toe Marie Swarts (28) die kitaar bespeel het - 'n tradisioneel manlike rol, volgens groepleier, mnr. S.P Abrahams, 'n opvoeder van Middelpos.

In die derde plek was Bitterfontein, met Vredendal tweede. Maar dit was Wupperthal se span wat as algehele wenners aangewys is.
Hul leier, mnr. Baren Salomo, het gesê die riel "vier die vryheid van ons mense".

>>besoek die webwerf: www.dieburger.com vir 'n videogreep.


Leerders van Ferdinand Brechner Primêre Skool op Steinkopf het tydens 'n gasoptrede die Namastap uitgevoer. Van links is Llewyllyn Visagie (13), Heinelle Cloete (11), Francois Bezuidenhout (12) en Runalda Jantjies (13). Voor is George Saayman (10).

Twee van die dansers
wat Saterdagaand
die sand losgetrap het.



Hierdie merkwaardige en geskiedkundige foto van die gesink Le Fleur waarop die drie Le Fleur-opperhoofde verskyn. Agter, v.l.n.r., staan mev. Annie (Dollie) Jones, dogter van opperhoof A.A.S. le Fleur I, opperhoof Abraham Andrew le Fleur, opperhoof Adam Muis Kok se seun, en tweede van regs, Andrew Abraham Stocken-ström le Fleur I, en heel regs is sy dogter, mev. Dorothy Greve. Voor sit mev. Charlotte le Fleur, eggenote van Abraham Andrew le Fleur met A.A.S. le Fleur II, die huidige opperhoof, op haar skoot. Langs haar sit mev. Rachel Susanna le Fleur, die ou opperhoof se eggenote. Voor haar staan haar kleindogter, Rachel, dogter van Abraham Andrew le Fleur. Langs haar staan mnr. Tom le Fleur, die opperhoof se jongste seun. Tweede van regs sit mev. Jimmy Kok en heel regs sit Adam Johannes le Fleur, tweede oudste seun van die ou opperhoof.

click here to go back to the Home Page...